Baie welkom by die NG Gemeente Suider-Paarl.  


In hierdie gemeente is elke gemeentelid baie spesiaal!  Ons werk almal hard aan ‘n kultuur van gasvryheid, omgee, liefde en diens aan Christus, mekaar en ander.  Ons het die keuse gemaak om die sogenaamde “liggaamsmodel” te volg.  Dit beteken dat ons wegbeweeg van die ouer “herder-kudde” model, waar die predikant verantwoordelik gehou word vir letterlik alle gemeentelike-aktiwiteite en die geestelike versorging van elke lidmaat.  By ons neem elke lidmaat verantwoordelikheid om in te skakel by ‘n groep/ groepe waar hy/ sy versorg kan word, en ander versorg.


Ons wil ‘n gemeente wees waar visie gebore word tussen en binne elke lidmaat en gemeente- aktiwiteit, en nie net ‘n gemeente waar die predikante en/ of kerkraad “van bo af” alles uitdink, bestuur en/ of kontroleer nie.  Ons wil ‘n relevante gemeente wees vir die mense, generasies en kultuur van vandag.  Daarom omhels en vier ons diversiteit.  Die verskillende groeperinge (oud of jonk, klassiek of kontemporêr, jarelange lidmate em massas nuwe lidmate) sien ons nie as ‘n probleem nie, maar as ‘n uitdaging.


Ons droom van ‘n gemeente wat warmhartig/ barmhartig is en die nood van mense daarbuite raaksien en help verlig.  Ons droom van ‘n gemeente wat sy doel bereik, nie Sondae in die kerkgebou nie, maar Maandae tot Saterdae op die markpleine, d.w.s. in die gemeenskap en by die werksplekke van lidmate.  Ons droom van ‘n gemeente wat positief impakteer op die hele Paarl-Vallei, Suid- en Suid-Agter Paarl, Simondium en Klapmuts-gebied.


Ons drome vir, en verwagting van elke lidmaat is die volgende:  Dat elke lidmaat, buiten gereelde kerkbesoek en die gee van ‘n tiende vir die Here se werk, iewers by ‘n geestelike opbou-geleentheid sal inskakel, en iewers sy of haar talent of passie vir iets, gratis sal deel met die gemeente.  Bo alles wil ons ‘n gemeente wees waar iets waar word van Sagaria 8:23: “So sê die Here die Almagtige:  Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê:  “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”